Latchkey Kids SA & Kinderwelsyn

Want julle God die Here is die God van al die gode, Hy is die Koning van al die konings, Hy is die groot en magtige God, almal is bang vir Hom. Hy dink nie een mens is belangriker as ’n ander mens nie, Hy neem nie geld en dan oordeel Hy onregverdig nie.  Hy doen reg aan weeskinders en weduwees en Hy is lief vir vreemdelinge, Hy gee vir hulle kos en klere. - Deuteronomium 10:17-18 (Die Bybel 1983 Vertaling)

UKUBA - "om te word"

UKUBA is 'n program wat fokus op vroeë ontwikkeling van kinders in arm en afgeleë gebiede in Suid-Afrika. Hierdie program is onder die beskerming van die CMR en BADISA.  

Ons gemeente het die voorreg om twee kindersorg programme om ons perseël te huisves.  
Die eerste is 'n Ukuba kleutersorgsentrum en
die tweede is die Latchkey Kids SA. naskoolsentrum.  
Beide hierdie programme fokus op die ontwikkeling, sorg en nasorg van kinders uit ons gemeenskap, wie se ouers dit nie kan bekostig nie.  Hierdie sentrums word deur werklose vroue in ons gemeenskap bestuur en hulle doen dit sonder vergoeding.  
Die projekte sorg vir sowat 70 kinders voor- en naskool.  Tans is daar nie enige befondsing nie, en die projek is afhanklik van skenkings.  Die kinders word daagliks van twee voedsame etes voorsien.  
Ons is opsoek na skenkings vir 'n mikrogolf en 'n stoof wat dringend is.  

Die sorgsentrum is gedurig opsoek na skenkings van kos, soos graankos, hoender, rys en groente asook aanmaak koeldrank. Daar word vir die kinders daagliks van twee voedsame etes voorsien.

Skenkings kan by die NG Kerkkantoor afgelaai of inbetaal word.   

Alta Roux deel die volgende op Facebook 06/08/2018:  "Verbeel jouself.... jy is vier jaar oud, en jy woon erens in die middel van 'n dorpie in 'n sink-en plankstruktuur. Soggens om sesuur knars die sleutel in die lendelam deur - jou ma gaan werk en jy is vir die res van die dag alleen. Buite hoor jy mense raas, honde blaf, motors wat ry, maar jy sien niks nie. Dis koud, daar is geen krag nie, geen kos nie (miskien bietjie van vanoggend se slappap) - niks om te doen, te speel - geen stimulasie nie. Geen blomme en sonskyn en wind op jou vel nie. Jou ouers doen dit nie omdat hulle wreed is nie, maar juis omdat hulle vir jou omgee. Daar is geen ander uitweg vir hulle, behalwe om jou toe te sluit tot vanaand donker, wanneer die sleutel weer in die slot knars en daar weer bietjie slappap op tafel is.... Daar is vele sulke kinders sonder enige familiebande of geld vir 'n kleuterskool in Hendrina. 'n Paar vroue het die nood raakgesien en hierdie kinders uit hul omstandighede gaan haal. Hierdie soort armoede ken geen ras, taal of godsdiens nie. Die vroue wat hierdie kleuterskool vanaf 07.00 tot 17.30 beheer, kry nie vergoeding nie. Soggens kry die sowat 25 kleuters pap of hawermout, smiddae kom die laerskool se nasorgkinders by - 50 0f 60 van hulle. Baie eet middagete saam: rys of brood met hoender en groentesous. Net 'n klein gedeelte van die kos word geskenk - die res? Uit die vroue se eie kaste. Daar is 'n behoefte aan alles- gebed, kos, speelgoed, skoolitems, klere... die lys is elllelank. Klein "Billy" is drie jaar oud en silwerskoon - maar hy dra elke tweede dag dieselfde klere. Een stel vir die was en een vir die bas... sy maatjie, 'n fyn tingerige meisietjie, het net een paar blou-en-pienk dogtertjieskoentjies.... Hierdie Ukuba Kleuters en Latchkey Kids naskoolsentrum word gehuisves on die N G Kerk Hendrina se Basaarsaal. Indien jy in die Middelburg, Witbank, Ermelo, Carolina of Bethal omgewing woon, en jy het iets wat rondlê wat ons kan gebruik - ons sal dit kom oplaai."